- Home Page
- About Perth
- Businesses
- Events Calender
- Our Forum
- Site Pictures
- Handy Information
- Churches
- Assisting Each Other
- Contacting Each Other
- WA Sports
- Jobs Offered
- Articles and Stories
- Videos
- Google Map Perth
- Web Links
- FAQ
- Contact Us
- Our Sitemap
Articles and Stories
Afrikaanse Stories
Oom Sorgsaam en Tant Doet
Oom Sorgsaam en Tant Doet
(Kliek die PDF knopppie hier bo as jy die storie wil aflaai vir later lees)
Oom Sorgsaam en Tant Doet
Min mense wat my oom Sorgsaam en tante Doet geken het, kon aanspraak maak dat hulle regtig
geweet het waar hulle name vandaan kom. Die naaste, wat ek verstaan, wat aan die waarheid kom,
klink so iets. Dis nou as ek die familie kan glo. Oom Sorgsaam het halfwas kind al begin neuk om
al wat ding is dubbel te doen. Niks is goed genoeg nie of hy word oorgedoen. Vir die wis of die
onwis, want gebeur daar iets onverwags, wat dan. 'n Mens moet voorbereid wees vir enigiets. Veral
die dood wag vir niemand.
Met die dubbel doenery van hom het die lewe dan ook twee keer so vinnig by hom verby gevoeter
en toe hy voel hy raak nou aan vyf-en-twintig, was hy al goed op stryk na vyftig. Met die besef dat
die sand uitloop as hy wil vrou vat, het hy hoog en laag begin gesoek, maar die woord was uit en al
wat hubaar is het besluit hulle wil hulle nie met dubbele werk opsaal nie. Die lewe is swaar genoeg.
Dis waar Tant Doet in die storie kom. 'n Weduwee uit 'n ander kontrei, Sy was toe nog Nelie of
Lenie, kan nie meer met sekerheid sê nie, maar sy kom toe die ongeluk oor dat sy onder oom
Sorgsaam se vryersoog beland. En hy het so 'n dringendheid dat hy haar voete skoon onder haar
uithaal.
Byna ongeskik gou is die vraag gevra en ge-antwoord en is die twee getroud.
Dit was so haastig en onbetaamlik dat as dit nie vir hulle redelik gevorderde jare was nie, die
familie alreeds sou begin tel het.
Oom Sorgsaam het vroeg al sy ware self uit die huweliksbed uitgehaal en sy stempel van voorsorg
afgedwing. ``Ons moet sorg dat alles reg is my, dier'', is gereeld gehoor. 'n Mens gaan slaap nie as
die skottelgoed nie gewas en weggepak is nie,`` want sê nou net'' en dan 'n betekenisvolle, intieme
kyk wat verborge skaamtes en skandes moet insinueer.
Hy gee dan die bevele en met alle eer het hy, gestand aan sy naam ``Sorgsaam'' ywerig meegedoen.
Later het hy net by die ``doen dit'' uitgekom het, wat Tant Lenie of was dit Tant Nelie, gedweë
uitgevoer het. Skrikkerig om nie op haar ouderdom sonder sorg of heenkome te moet wees nie.
Die `doen dit' het algaande verbaster na doet en daar waar hy vasgesteek het, het sy naam gekry.
As't ware in of uit die volksmond gebore.
Soos die jare aan hulle en hulle aanmekaar geskawe het, het die twee gemaak pas soos 'n stel
kunstande wat eers moes goed ingekou raak. Toe begin voeter oom Sorgsaam met 'n nuwe skeet.
Kan nie hoër of laer nie, maar daar moet tot drie keer 'n nag opgestaan. Lig aan om seker te maak
daar is water in die ketel vir moreoggend se koffie, ``Want sê nou daars 'n staking by Waterwese.''
of ``Is jy seker ons het genoeg kerse as die krag afgaan? Of `` Is my swart pak skoon as ek dalk vir
hogere diens opgeroep word?''
``Genoeg om enige goeie mens tot heidendom te bekeer,'' loop die woord in die familie rond.
``Die ou pes waardeer nie 'n goeie vrou nie'', sê my oom Apie en ek stem saam. Sal dit nou nie te
hard sê nie, want in ons wye familie is daar altyd die wat 'n gestry en bakleiery aan die gang sal sit
net vir die pure lekker daarvan.
Tant Doet het met tyd al hoe minder gepraat. Ek sou raai dit was uit moegheid van al die dubbel
doen. Aan alles kom egter genadiglik 'n einde. Die verdriet s'n het ek met soebat en afpers
uit my ma gekry, ``maar jy bly stil hoor. Tant Doet sal my nooit vergewe as ek so uit die huis uit
praat nie.'' En ek beloof en kruis my vingers agter my rug.
Nou dra ek dit oor soos dit aan my oorgedra is. Woordeliks. Amper.
Oom Sorgsaam en Tant Doet het hulle bedwaarts begewe. Oudergewoonte 'n tydrowende rite in hul
huis. Wat egter wonderbaarlik was, sê ma, sê Tant Doet, is dat sy toe die hele nag deurslaap. Iets
wat sy nie gedink het sy sou ooit weer in haar tyd oorkom nie. En dit was vroegskemer,
voor die bure se orige hond met sy gekef begin, dat sy opstaan. Lig aangesit, stamp sy aan oom
Sorgsaam om na sy koffielus te verneem. Na die derde stamp kom sy agter dat hy inderdaad
opgeroep is vir hogere diens.
Na verneem het sy toe met groot spoed die lig loop afsit ``Voor hy wragtig opstaan om te loop
kyk of sy swart pak skoon is.''
Tokkie Mare'
2009
Template Chooser |
Online now
We have 2 guests online
|


