Nuwejaarspil
(Kliek die PDF knopppie hier bo as jy die storie wil aflaai vir later lees)
ʼn Pil vir Nuwejaar.
Vuilbaard van Tonder is aan die woord. Sy stem vul nie soos gewoonlik elke hoek van ons
gunsteling watergat nie en dis duidelik dat hierdie ʼn sensitiewe sakie is wat hy nou met ons wil
deel.
``Dis nie dat ek iets teen Nuwejaarsdag het nie sien, dis ʼn goeie, edele dag. Een waarop jy die pad
vorentoe vir die jaar beplan. Jy vat `damage control' van al die dinge wat die afgelope een
verkeerd gegaan het en dan probeer jy om dit die jaar anders verkeerd te doen.''
ʼn Paar glase bitterwater gee jou dieper insig in die verborge en ons swyg voor hierdie dieper
wysheid.
``Nee dis die mense wat van hierdie dag ʼn gemors maak.'' sê hy en weer kan ons nie sy stelling
weerlê nie. ``ʼn Dag voor Nuwejaar keer Jaap apteker my op straat voor, druk ʼn bruin koevertjie in
my hand en sê dê hiers die goed. Daar's net twee in, maar wees versigtig hulle is baie sterk. Ek wil
nog vra waarvoor, toe sleep sy dwarskop vrou hom al ʼn blok vêr aan die arm. Nou ja, met haar
sukkel ʼn mens nie. Wou nog dankie sê ook en hom vertel dat hy besig is om Krismis en Nuwejaar
op te mix.
By die huis gekom bekyk ek die goed. Sulke groot, plat bloues. Moet hel oppie keel wees om hulle
te sluk. Regte bulle. Dis toe dat mu oë nou spreekwoordelik oopgaan. Met die bul woord, sien.
Want hier staan ek met Viagra in my hande. Dit kan net Sarie se askies vra wees. Oor die cheap
sokkies wat sy my vir Kersfees gegee het. En ek sluk hulle, sommer altwee, Jaap Apteek se
bangmaak storie in die wind geslaan. Ek is bekend as ʼn man wat kan!
Ek sê julle manne, nie ʼn uur nie, toe word vyftig jaar vyftien. Toe Sarie by die huis inkom, toe lei ek
haar al so aan die arm, ene aftershave en cologne. Vertel haar net watter wonderlike
Nuwejaarsnaweek dié gaan wees. Maar ai, julle vrouens. Die ene suspisie. Vra net vrae. Hoekoms
en waaroms en ondervra die pille skoon uit my gestel uit. Dít na ek haar in my gedagtes omtrent
aldeur die hele huis gejaag het. Ergste is, sy weet niks van die pille nie en wil ook niks daarvan
weet nie. Sê ek beter vir Jaap bel. Ek maak so. Dié het pad gevat, weg van alles af en ek kry hom
nie in die hande nie. Bel toe maar sy vennoot. Sarel weet niks van die sakie nie en vra ek moet die
pille beskryf.
Hy reken dis beslis nie Viagra nie, dit klink eerder na pille vir konstipasie, maar wees versigtig,
hulle isbaie sterk. Moet tog nie meer as een drink nie.
Te laat, broers, te laat. Ek hardloop heen en weer tussen die kamer en die badkamer.
Later hardloop ek nie meer nie,toe sit ek maar net my sit. Kan my nie lig nie, so swak soos ʼn baba.''
Ons simpatiseer. Onderdruk glimlagte en proese.
``En is jy nou al beter'', wil Charlie, die rioolmekkêniek weet.
``Wag man, dis nog nie die einde van die storie nie. Ek raak mos daar aan die slaap. Só moeg en
uitgeput en vaak soos nog nooit in my lewe nie. Sarie probeer my roer. Sy kan nie, daars te min van
haar en te veel van my. Nou moet jy onthou dis Vrydagnaand wat ek op die troon aan die slaap
raak. Ek word Maandagmôre eers wakker. In my bed. Gelukkig nie so deurmekaar soos ou Rip van
Winkel nie. Hoe het ek in die bed gekom? Wou ek by Sarie weet.''
Piet van langsaan was op Nuwejaarsdag hier'' sê sy.
Ek onthou toe eers van Nuwejaar. Van die skaapboud wat ek nie ge-eet het nie en die yskoue bier
wat ek nie gedrink het nie. Kan jy glo, hier het Nuwejaar onder my uitgeloop, aan hom sal ek nooit
met weemoed kan terugdink nie. Hy is weg. Het vir my nooit bestaan nie.
``Wat wou Piet gehad het?'' ken hom nie as ʼn ou wat graag kuier nie.
``Hy het sy pille kom soek.” sê sy laggend. ``Jaap Apteek was blykbaar te haastig op pad. Hy het
gesê dat hy jou in die dorp gesien het. Hy sou die pille vir jou gee en dan kon Piet dit hier kom
afhaal.''
``Ja en niemand vertel my niks en toe sit ek onnodig met ʼn maag.'' grom ek.
``Niemand het gesê jy moet die pille drink nie. Dit was in elk geval nie purgasiepille nie, maar
kalmeerpille vir sy hond. Hy is vreeslik bang vir die klappers wat hulle op Nuwejaar skiet.”
``Nou verstaan julle hoekom ek sê, met die dag is daar nie fout nie. Dis die mense wat hom so
opmors.''
Tokkie Mare'
2009



